Verslanking

Die basiese doel van verslanking is om die hoeveelheid vetweefsel in die liggaam te verminder. Dit kan bereik word deur 'n dieet te volg of deur meer liggaamsbewegings uit te voer sodat die liggaam ekstra energie verbruik. Die mens verslank gewoonlik ter wille van sy uiterlike voorkoms, maar uit 'n mediese oogpunt is dit ook belangrik om van oortollige massa ontslae te raak.

'n Toestand van te veel vet word veroorsaak deur 'n abnormale hoeveelheid vet in die liggaam. Uiterste gevalle word vetsug genoem. Tot nog onlangs het sekere mense of rasse oormassa by 'n man as 'n teken van welvaart en gesondheid beskou; by vroue was dit 'n teken van skoonheid en vrugbaarheid. In die moderne tyd het die verslankingsidee in so 'n mate opgang gemaak dat selfs mense wat geensins of slegs 'n geringe mate oormassa is, ook probeer verslank.

Die onderliggende oorsaak van vetsug kan ook suikersiekte, verhoogde bloeddruk of hart- en bloedvatsiektes wees.

Die eenvoudigste metode om vas te stel of iemand oormassa is, is om sy massa te meet en dit met die ideale massa te vergelyk. Hiervoor bestaan daar tabelle waarin rekening gehou word met ouderdom, geslag en lengte. Die ideale massa kan ook, hoewel minder noukeurig, bereken word deur die getal 100 van die liggaamslengte (in cm) af te trek.

As die liggaamsmassa bo die ideale massa lê, word van oormassa gepraat. Wanneer die verskil meer as 9 of 10 kg is, is daar sprake van vetsug. In die praktyk word daar meestal nie 'n duidelike onderskeid gemaak tussen die twee begrippe nie.

'n Te hoë massa beteken nie altyd dat 'n persoon te veel vet het nie; die groot spiermassa van sportmanne kan ook oormassa veroorsaak. In gevalle waar 'n baie noukeurige ideale massa bereken moet word, kan uitgegaan word van die vetvrye gedeelte van die liggaam, die LBM ("lean body mass"). Laasgenoemde kan op verskillende maniere bepaal word, onder meer met behulp van skeletmates. Die ideale massa vir 'n man is 10 % hoër as die LBM terwyl dit vir vroue is 20 % hoër is.

Die dikte van velplooie is 'n goeie aanduiding van die hoeveelheid onderhuidse vet, wat algemeen aanvaar word as 'n juiste weerspieëling van die totale hoeveelheid vet in die liggaam.

Oormassa en vetsug kom veral in geïndustrialiseerde lande voor. Volgens statistieke is ongeveer 30 % van mans en 40 % van vroue in hierdie lande 10 kg of meer oormassa.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search